3-Bestandeel Plaatkoekies

Een van my gunsteling japtrap-geregte is beslis die nederige plaatkoekie! Soms bedien as ‘n maaltyd, en soms sommer as ‘n peuselhappie vir honger magies. Ek het jare terug op hierdie 3-Bestandeel plaatkoekie resep afgekom en gevind dat dit maklik, goedkoop en lekker vinnig is om voor te sit. Dit kan bedien word met enige smeer of bolaag, sout of soet.

Bestandele

(Maak sowat 4-6 plaatkoekies- afhangend van grote)

1x koppie bruismeel (self-raising-flour)
1x eier (geklits)
1x koppie melk
‘n knippie sout (opsioneel)

Metode

Klits bestandele goed saam totdat die beslag glad en loperig is. Jy kan die beslag soveel verdubbel as wat jy nodig het om groter hoeveelhede te maak. In ‘n warm geoliede pan ( oor ‘n redelike hoë hitte) , drup lepels vol van die deeg. Draai om met ‘n eierspaan wanneer lig borreltjies aan die bokant verskyn. Bak tot gaar en ligbruin gebak aan albei kante. Bedien warm (die beste) of koud.

Ekstra Wenke

  • Vervang bruismeel met koekmeel : 1x koppie koekmeel + 1 teelepel bakpoeier
  • Gooi vaniljegeursel (of ander) by vir ekstra geur.
  • Jy kan afgekoelde, gaar plaatkoekies vir sowat 3 dae in die yskas stoor. (‘n lekker kosblik happie)
  • Die beslag kan vooraf gemaak, en in die yskas gestoor word vir maksimum van 3 dae. (‘n maklike kamp gereg vir die braaipan!)
  • Vir kinders: Maak ‘n groot hoeveelheid van die beslag aan en verdeel in kleiner bakkies. Gooi verskillende kleure koekkleursel by elke bakkie en meng goed. Drup verskillende kleure in die pan om reënboog-plaatkoekies te maak!
  • Vir sjokeladegeur plaatkoekies, voeg ‘n eetlepel cacao-poeier by, of sjokeladeskyfies!

Sommige van die artikels op die CutiePie webstuiste bevat skakels wat lei na geaffilieerde produkte en verskaffers wat ek graag onderskryf en ondersteun.

Teen geen ekstra koste vir u, verdien ek ‘n klein kommissie indien u enige produkte deur middel van hierdie skakels aankoop. CutiePie bedank u byvoorbaat vir u ondersteuning!

Translate »