BASTA! met jou grasperk.

Daars maar net iets omtrent ‘n netjiese grasperk is dit nie? Die soort wat jou tone sommer van pure lekkerte kan laat omkrul as jy kaalvoet daarop trap. Tuin tydskrifte en tv programme het die maat duidelik daar gestel; Sò moet n grasperk mos lyk! Mettertyd het ons voorstedelike tuine al meer gemanikuur geword in ons strewe na ‘n welige groen mat om ons tuine te versier.

Maar dinge is besig om te verander… Bewustheid begin al meer toeneem omtrent die verwoestende impak wat grasperke kan hê op die omgewing. 

Verwoestend sê jy? Beslis ja!

Desertifikasie: Die toenemende agteruitgang van eens vrugbare landskappe/grondgebiede tot ‘n woestynagtige landskap.

Triljoene liters water word jaarliks uitgestort op grasperke in Suider Afrika alleen; ‘n kortsigtige praktyk , veral nóú dat ons so ooglopend begin sien watter impak water tekorte en selfs uiterste droogtes in sommige gebiede op ons landskappe het. Desertifikasie is ‘n baie ernstige, en groeiende probleem.  Turf gras, die ornamentele variëteite bied ook geen natuurlike habitat vir bestuiwers nie, en soos enige gesoute tuinier jou sal vertel behoort bestuiwers eintlik as eregaste verwelkom te word in jou tuin! Hulle is uiters noodsaaklik vir voortplanting in die natuur, en hoe meer jy hulle kan lok, hoe meer welig sal jou plante en voedsel gewasse groei. Behalwe vir water vermorsing, gryp ons ook steeds veels te maklik na die gif-kan die oomblik as ‘n gediertetjie iewers krioel of n ongewensde bossie sommer wild op kom. Hierdie praktyke is onnodig skadelik vir die omgewing en die algehele gesondheid van die grond.

Ek kan nie help om te dink dat ons iewers dalk die pot heeltemal mis gesit het in ons eensporige soeke na skoonheid en prag nie. Ons spandeer duisende rande aan water, elektrisiteit (vir grassny) bemesting, gifstowwe en deklae; en boonop lang ure van arbeid aan gras-versorging bloot omdat dit vir ons op die oog af mooi is, terwyl mens eintlik bitter min wins daaruit put op die ou einde van die dag. Dalk lê die antwoord daarin dat ons anders moet begin kyk na die waarde van die grond en spasie tot ons beskikking…met ander woorde: 

Hoe kan ek my grond beter benut?

  • Kan jou erf/stoep/tuin n redelike hoeveelheid voedsel produseer vir jou en jou gesin, en hoeveel kan jy spaar op jou maandelikse inkopies?
  • Hoe kan ek dit op n goedkoop wyse doen, sonder om afhanklik te wees van munisipale water, duur bemesting en insekbeheer middels?
  • Is dit moontlik om dit op n organiese, holistiese manier te doen?
  • Hoe kan ek dit deeltyds doen, sonder dat dit lang ure en oortollige hande arbeid in beslag neem?
  • Is dit moontlik om ‘n winsgewende kantlyn-inkomste verdien (as ek sou wou), deur my tuin oppervlakte in te span as n bate wat benut kan word om winste te
    Illustrasie van ‘n ekosisteem. Foto regte: Permaculture| Transition Australia
    genereer?
  • Wat is die gesondheids voordele van organiese, tuis-gekweekde groente, vrugte, kruie, neute en sade?

Alhoewel ons moderne obsessie met grasperke nog lank nie verby is nie, begin al meer mense eksperimenteer met alternatiewe tuin uitlegte. Die huishoudelike groentetuin raak ook weer gewild en waterwyse tuinbou metodes begin ook al meer algemeen raak. ‘n Groot skuif is besig om plaas te vind in die rigting van HERSTEL.  As ‘n spesie begin ons nou meer as ooit bewus raak daarvan dat die natuurlike wereld om ons deel uitmaak van n groter ekostelsel op die planeet en sonder n werkende ekosisteem kan niks (insluitend die mens) leef nie.

Ons besef al meer dat die tradisionele landbou en tuinbou praktyke waaraan ons nog altyd gewoond was, massiewe skade aangerig het tot dusver wat by dra tot grondarmoede (grond wat uitgeput is van alle voedingstowwe, soos bvb sand) aardsverwarming, water tekorte en die uitwissing van totale spesies!

As ons dus veronderstel is om op te tree as opsigters van die aarde, is dit dan regverdig om te sê dat ons heeltemal faal in ons bestuursvermoëns? Inteendeel, baie sal aanvoer dat die MENS die grootste oorsaak is van bogenoemde probleme. Ons ondersoek dit verder hier op Cutiepie se GROENVINGERS.

Bly ingeskakel en ondek baanbreker metodes en praktyke wat handel oor alternatiewe maniere van land en tuinbou soos;  Herstellende Landbou (Regenerative Agriculture), Permakultuur (Permaculture), Reën tuine, Voedsel-woude, stedelike stoep-tuine ensomeer!


 


Sommige van die artikels op die CutiePie webstuiste bevat skakels wat lei na geaffilieerde produkte en verskaffers wat ek graag onderskryf en ondersteun.

Teen geen ekstra koste vir u, verdien ek ‘n klein kommissie indien u enige produkte deur middel van hierdie skakels aankoop. CutiePie bedank u byvoorbaat vir u ondersteuning!

Translate »