Ons plan vir die toekoms..

2020 was vir ons almal ‘n swaar jaar; vir sommiges meer as vir ander gedurende die Covid Pandemie. Ons moes aanpas by ‘n heel ander wêreld as waaraan ons oor die algemeen gewoond is. Dit het baie van ons tot introspeksie geruk en gedwing om te hersien waarheen ons oppad is en waarheen ons nou eintlik wil gaan. Die finansiële sisteme waarvan ons afhanklik is wankel, die enormiteit van die planetêre en humanitêre krisisse waarmee ons sit, kán eenvoudig nie langer ignoreer word nie.

16.5% van Suid Afrikaners lei aan algemene geestesgesondheids-probleme.
Fot deur Kat Jayne van Pexel.

Daar is die een vlaag tragedie en negatiwiteit na die ander wat deesdae om ons losbars en dis so amper of ‘n stille depressie begin toeneem het onder mense. Baie van ons is konstant teneergedruk en onseker oor die toekoms en loop rond met erge storms in ons binneste…ons kan nie vinnig genoeg al die vure doodslaan nie, en ons weet nie wat om daaraan te doen nie.

Miskien is jy ook die soort mens wat wakker lê in die nag oor diè klas van goed? Goed soos; Die onbekende getal onskuldige kinders wat daagliks honger ly. Of die plastiek besoedeling in ons oseane wat nie alleen alle see-lewe bedreig nie, maar ook vars drinkwater heeltemal kan besoedel teen die jaar 2050. So raak die lys net langer elke jaar en dan wonder ek maar…HET ONS ‘N PLAN?

In 2019 het ek aktief begin navorsing doen oor moontlike oplossings vir hierdie groeiende probleme in ons land en meer direk; ons onmiddelike gemeenskappe.  Soos die engelse sou sê :’’charity begins at home”. Hierdie slagspreek het my herinner dat ons elkeen ‘n verskil kan maak in ons onmiddelike omgewing mits ons begin verstaan dat die welstand van ons samelewing elkeen van ons se verantwoordelikheid is! Op ‘n groter skaal het só ‘n denkwyse die mag om wêreld-probleme tot niet te maak sodat toekomstige generasies die vrugte kan pluk.

Hier het my pad gekruis met Permakultuur en herstellende landbou konsepte.

Ek het tot die ongelooflike besef gekom dat: Alle aardsverwarming-verwante probleme (en nog meer!) opgelos kan word deur Permakultuur suksevol en grootskaals te beoefen!

  • Dit is ‘n direkte oplossing vir voedsel tekorte en hongersnood, en dit is volhoubaar!
  • Dit is ‘n oplossing vir vars drinkwater tekorte, droogtes, en land-erosie wat vars reënwater na die see wegvoer. (Die doel is om vars water binnelands te hou om droogtes te voorkom)
  • Dit bespaar energie deur:
    o Alternatiewe en gratis forms van energie opwekking te gebruik wat nie skadelik is vir die natuurlike ekosisteem nie, soos son-krag of wind-krag. (Die verbranding van steenkool, is ‘n duur, skadelike en onvolhoubare manier om elektrisiteit op te wek.
    o Saam met die natuur te werk in plaas van om onnatuurlike metodes op dit af te dwing. Dink aan grassny as ‘n voorbeeld van energie-vermorsing; wat as jy jou tyd beter kon gebruik?

Al hierdie oplossings het, op groot skaal ‘n daadwerklike impak op die ekonomie, misdaad statistieke, sterfte en siekte syfers en ook op die gesondheid van ons sukkelende planeet en ‘n diversiteit van diere en insek-spesies.

Verwoestende Droogtes :

Jou hart het seker ook al saam gehuil as jy ‘n foto op sosiale media sien van nóg ‘n arme dier (of vele) wat van die dors vrek op ‘n droogte-geteisterde landskap.

Foto: Reuters
Artikel: “South Africa declares drought a national disaster – 2018”

Ons sien die hulp van liefdadigheid en skenkings om die nood te verlig en dit is ‘n wonderlike gebaar van omgee en liefde tussen ons mense –maar is dit ‘n volhoubare oplossing vir hierdie soort probleem vorentoe?

Werkloosheid neem ál meer toe ná hierdie grendeltydperke. Hoe meer politici stry kry, hoe minder word daar onmiddelike én voorduurende verligting gebring aan die groeiende arm bevolking in Suid-Afrika. Hierna volg dan weer n rippel-effek wat misdaad laat toeneem. Sowaar ‘n bose kringloop. Die deursnee Suid-Afrikaanse huishouding kan skaars tuis die pot aan die kook hou, waar sal die geld dan nog vandaan kom om te skenk aan ander? Boonop betaal ons alreeds oorbodige belasting vir dienste wat ons nooit eens met ‘n oog te sien kry nie. Dis geen geheim met watter korupsie probleem ons hier sit nie.

Die sleutelwoord bly eenvoudig dit: VOLHOUBAARHEID

Hoe voed jy duisende mense volhoubaar deur middel van skenkings? Jy kán eenvoudig nie! Mens kan ook dan seker vra: Hoe voed, klee en behuis regerings miljoene mense voordurend op ‘n welsyns sisteem waar slegs 5.8% van die bevolking belastingbetalers is? En hierdie syfer bly daal hoe meer werkloosheid toeneem, besighede toemaak, buitelandse beleggers kop uit trek…
Waar eindig dit? Gaan ons almal uiteindelik van die honger omkom teen hierdie pas?

Die antwoord is heel moontlik eenvoudiger as wat ons dink….

Gemeenskaps-tuine:

In my onmiddelike omgewing weet ek van tenminste 6 oop stukke munisipale grond wat beter benut kan word. Sommige van hierdie ou-parke is nou al só toegegroei dat opportunistiese kriminele dit nou in gevaarlike tuistes omskep het – en almal trek net skouers op. Die munisipailteite is bankrot. Die inwoners te bang.
Gemeenskapstuine is ‘n konsep wat lankal sy kop begin uitsteek. Deur middel van slim-permakultuur tegnieke is dit totaal en al moontlik om meerjarige, self-waterende tuine op te stel op oop stukke grond. Hierdie tuine kan ‘n massiewe impak hê op omliggende inwoners se voedsel-nood of tekorte en dit hoef nie ‘n sent te kos nie! Sulke projekte word gedryf deur vrywilligerswerk en die skenkings van plante/sade/bome ens deur die gemeenskappe self.
Wat sê die engelse spreekwoord nou weer? ;” Give a man a fish and you feed him for a day. Teach a man to fish and you feed him for a lifetime.”
Is dit dan nie ‘n volhoubare oplossing vir ‘n groot meerderheid van ons probleme nie?

Herstellende boerdery:

Peter Andrews is wel bekend in Australië en internationaal vir sy baanbreker werk in landskap herstel.

Op groter skaal is dit deur-en-deur bewys deur baanbrekers soos Australianer Peter Andrews, dat swak landbou grond restoreer en herstel kan word deur die slim toepassing van wateropvangs- sisteme en ander metodes wat die natuur naboots. Als vir spot-goedkoop of selfs gratis!

Daar is vele ander voorbeelde van permakultuur-helde wat dooie landskappe kon transformeer in utopiese tuine, woude of boerderye met hierdie tegnieke. Ons ondersoek dit en nog meer hier op CutiePie.


Dit begin by jou en my..

Almal soek verandering, maar niemand wil die een hoef te wees wat verander nie. 2020 was vir my persoonlik ‘n jaar van hergeboorte en transformasie. Die kans om te onsnap uit hierdie kokkon van onsekerheid oor die toekoms, en te begin bou aan die wêreld wat ek graag sal wil agterlaat vir my kinders en hul nageslagte.  Om deel te word van die oplossing, eerder as om te fokus op die probleem.  Dit is die inspirasie wat CutiePie dryf; ‘n beter wêreld vir elkeen.

As jy wil deel word van hierdie beweging en graag ons artikels wil volg; sluit aan om voordurend meer te leer saam met ons!


 


Sommige van die artikels op die CutiePie webstuiste bevat skakels wat lei na geaffilieerde produkte en verskaffers wat ek graag onderskryf en ondersteun.

Teen geen ekstra koste vir u, verdien ek ‘n klein kommissie indien u enige produkte deur middel van hierdie skakels aankoop. CutiePie bedank u byvoorbaat vir u ondersteuning!

Translate »