Gesondheid uit die grond uit…

Die meeste van ons spaar nie regtig ‘n gedagte aan iets soos grondgesondheid nie. Grond is mos maar net grond, of is dit?

Volgens RegenAg SA is daar tans twee groot probleme met betrekking tot voedsel produksie:, 1. Menslike gesondheid; en 2. Die omgewing, met direkte verwysing na klimaatsverandering.

Die verwoestende impak van tradisionele landbou praktyke op grondgesondheid.

Tradisionele ploeg en stroop landbou metodes is besig om ons landbougrond te beskadig. Foto deur Jannis Knorr van Pexels

Ons huidige voedsel produksie stelsels (wêreldwyd) rig massiewe skade aan grond, dws die manier waarop ons en veral groot industrieë die grond bewerk is eintlik besig om lewendige, gesonde grond heeltemal dood te maak en te erodeer!  Daarmee saam beskadig dit ook die omgewing op verskeie maniere en is glo verantwoordelik vir 24% van kweekhuigasse, kan jy glo?

Dis nie al nie! Die kombinasie van ploeë, chemikalieë en sintetiese kunsmis wat die afgelope 75 jaar deur boerderye toegedien is, het ons grond só verarm dat ons nou voedsel produseer met uiters lae voedingswaarde, wat ‘n verwoestende effek het op die algehele gesondheid van menslike verbruikers. Kenners meen sintentiese kunsmis en gifstowwe wat in grootmaat toegedien word dien slegs die doel om plant gewasse te voed en beskerm teen peste om sodoende groter oeste te lewer, maar hierdie kompromie (van kwantiteit bo kwaliteit) is uiters nadelig in die langtermyn.

Herstellende landbou beweeg in ‘n rigting wat al meer hollisties is. Dit poog eerder om saam met die natuur te werk in stede daarvan om teen natuurlike sisteme te probeer werk.’n Paar voorbeelde hiervan sluit in :

  • Allan Savory se voorgestelde metodes vir dierweiding; om diere te laat wy sodat dit natuurlike patrone van wilde troppe na-aap. Lees meer oor Allan Savory se werk met die Savory Institute hier.
  • Bill Mollison se permakultuur beginsels, wat onder andere voorstel dat diversiteit en polikulture die antwoord is tot volhoubaarheid in ‘n natuurlike ekosisteem. Monokulture, soos die boerderye waaraan ons gewoond is,is onder andere deel van die groter probleem.
  • Peter Andrews, ‘n Australiaanse boer wat sy lewe daarin toegewy het om die droogte geteisterde landskappe van Australia te verstaan en regenereer is aan die voorpunt van Herstellende Landbou, en hy het die bewyse daarvoor. Sy werk handel onder andere oor hoe om erosie te voorkom. Erosie veroorsaak tans dat 1% van ons bolaag ( grond ) jaarliks verlore gaan op ‘n globale skaal! Wanneer voedingstowwe nie die grond kan penetreer nie, spoel dit weg en los ‘n woestynagtige landskap agter waarin amper niks gewasse kan groei nie. Lees gerus meer oor Peter Andrews se werk op sy webtuiste: www.peterandrewsoam.com

    Hier is ‘n voorbeeld van herstellende landbou in praktyk. Foto regte behoort aan Peter Andrews. Lees meer deur op die foto te klik.

 

Herstellende landbou sisteme poog om koolstof in die grond te behou eerder as om dit vry te stel in die atmosfeer.  Dit herbou die grond se bolaag vinniger, en verhoed erosie. Hierdie herbouing van die grond stimuleer dan ook die mikrolewe in die grond (wat die grond lewend hou), sowel as die natuurlike water siklus, wat dan die potentiaal het om aardsverwarming te vertraag, indien dit op groot skaal toegepas kan word.

 

Industriële landbou bedrywe voer aan dat ons hierdie nadelige chemikalieë en fossiel brandstowwe benodig om sodoende die wêreld se spoedig-groeiende populasie te voed, omdat hierdie middels help om groter oeste te lewer. Volgens RegenAg SA voed hierdie massiewe maatskapye maar slegs 40% van die wêreld se bevolking; als terwyl hul voedselgehalte swak is en amper geen voedingsstowwe bevat nie. Nog meer kommerwekkend is dat die giftowwe wat gebruik word om hulle produkte te produseer ernstige siektes in mense veroorsaak. Dit is ‘n bitter ernstige probleem wanneer mens die globale siekte syfer opweeg met hierdie soort informasie, en moet ons onself af vra; maak ons voedsel ons siek?

‘n Onlangse studie deur die Universiteit van Sydney voer aan dat 64% van alle landbougrond in die wêreld die risiko beloop om heeltemal deur plaagdoders besoedel te word (sien ons artikel hieroor). Die waarheid is dus dat wanneer ons grond en watersisteme vergiftig word, vergitig ons ook onsself in die proses.

Iewers sal die mensdom tog moet besef dat dit nie volhoubaar is vir ons of vir toekomstige generasies om so te leef nie. Ons kan eenvoudig nie wag tot ons midde in die ramp is voor ons optree nie, en eintlik is ons reeds!

Herstellende landbou genees die omgewing, herbou menslike gesondheid, verlaag inset kostes en herenig boerdery gemeenskappe. Dit is immers nie net van toepassing op boerderye en groot landskappe nie. Grondgesondheid kan ook deur middel van permakultuur beginsels verbeter word op enige landskap van enige soort of grote; selfs in stedelike gebiede en in jou eie tuin! Dit is uiters belangrik dat ons na onself begin kyk as deel van die groter ekosisteem, waar niks kan floreer indien dit nie behoorlik versorg word nie. Volhoubaarheid wat strek tot vêr in die toekoms behoort ons almal se hoofdoel te wees, ons wil immers ‘n werkende wêreld agterlaat aan ons nageslagte.

Hoe kan ek die omskakeling maak?

Hoe meer die klimaat krisis om ons toeneem sal ons al meer begin sien dat wetgewing verander om hierdie vernietigende probleme stelselmatig stop te sit. Die Vereenigde Nasies pas al meer druk toe op verskeie lande om hul voorgestelde SDG (Sustainable Development Goals) na te om wat handel oor aardsverwarming en verwante krisisse. ..maar dit gaan nie oornag gebeur nie, daar is te veel aspekte wat nog aangespreek moet word en die probleme wat ons in die gesig staar is te kompleks vir ‘n maklike oplossing.

Soos altyd sal ons altyd voorstel dat deeglike navorsing gedoen moet word indien u dit oorweeg om die oorskakeling te maak vanaf tradisionele metodes na herstellende metodes van landbou. Daar is hulpmiddels in plek vir landbouers wat grootskaalse omskakelings wil doen. ‘n Goeie plek om te begin sal wees om RegenAg SA se webtuiste te besoek.

Kom ons kyk kortliks na ‘n paar belangrike punte;

Wat vernietig grond?

  • Ploeë
  • Chemikalieë
  • Kunsmis (Sinteties)
  • Monokulture
  • Aanhoudende weiding van diere op dieselfde stuk grond
  • Gras en oes verbranding
  • Erosie (veroorsaak deur baie van bogenoemde)

Wat bou grond?

  • Geen-spit (of omdolwe van grond) – in Engels bekend as die “NO-TILL method”.
  • Bedekker oeste (cover crops in Engels)

    ‘n Voorbeeld van organiese materiale wat oor 5 jaar afgebreek het om kompos te vorm.
  • Diversiteit in plant, insek of dier spesies
  • Organiese materie en voeding
  • Stimulasie van grond mikro-biologie
  • Dierweiding in oes-rotasies
  • Regenererende dierweiding

Wat doen gesonde grond?

  • Behou koolstof
  • Infiltreer water ( proses waar water in die grond ingeneem word )
  • Behou water ( hoeveel water kan jy behou op jou grond?)
  • Ondersteun mikrobiologie (lewende organismes onder die grond oppervlakte)
  • Het geen sintetiese insette nodig nie
  • Lewer plante wat ryk is aan voedingstowwe

Maniere om gesonde grond te kweek:

  • Toets gereeld jou grond. Hou ‘n oog op die PH vlakke van jou grond en beplan jou organiese plant skedules daar rondom. Sekere plant soorte soos peulgewasse (legumes) kan bvb stikstof terug in die grond sit.

    Foto deur cottonbro van Pexels
  • Bly voordurend organiese materiale byvoeg tot jou grond in die vorm van organiese kompos.
  • Moenie ontslae raak van die bio-materie op jou perseel nie, jy verwyder noodsaaklike voedingstowwe en moet dan ten duurste weer kompos en ander voeding aankoop om jou grond te voed. Gesnoeide takke, grassnysels, blare, kombuis afval ens moet liefs gekomposteer word en terug in die grond gesit word om sodoende die koolstof sowel as ander voedingstowwe te roteer terug in jou grond in. Lees gerus ons artikel oor Kompos!
  • Beskerm jou bolaag grond teen erosie deur te “mulch” met n deklaag, of met ‘n lewende bedekker oes (in Engels bekend as ‘n “covercrop”). Grond wil nie kaal wees nie! Kaal grond word blootgestel aan die elemente en alle vog verdamp dan sommer maklik, wat erosie veroorsaak. Onkruid is die natuur se manier om die grond te bedek en beskerm teen die elemente, dus kan onkruid beheer word deur genoegsame bedekkers te verskaf om die onkruid te vervang. Jy kan eetbare of nie-eetbare, lewende grondbedekkers plant. Sien ons artikel oor grasperk-alternatiewe hier.
  • Moet onder geen omstadighede chemikalieë gebruik nie, tensy daar werklik geen ander alternatief is nie.
  • Roteer oeste om grondverarming te voorkom en peste te beheer.
  • Soek en gebruik organiese metodes van pes-beheer, en dink eerder in terme van die groter ekosisteem. Het jy insek-probleme? Soek bvb op oor blomsoorte wat peste weghou ens.

Voortaan op Cutiepie Holisties sal ons meer in diepte gesels oor ‘n paar van hierdie praktyke en konsepte. Ons gaan kyk na ; geen-spit metodes, “lasagne” beddings, wateropvangs sisteme soos vore (swales in Engels), die wetenskap agter biodiversiteit in kos-produksie en vele meer!

Bly ingeskakel en volg ons gerus om op hoogte te bly van ons gesprekke hier op groenvingers!

 


Sommige van die artikels op die CutiePie webstuiste bevat skakels wat lei na geaffilieerde produkte en verskaffers wat ek graag onderskryf en ondersteun.

Teen geen ekstra koste vir u, verdien ek ‘n klein kommissie indien u enige produkte deur middel van hierdie skakels aankoop. CutiePie bedank u byvoorbaat vir u ondersteuning!

Translate »