Maak jou eie PASTA!

Miskien is dit ‘n ma-ding..maar op ‘n stadium het ek moeg begin raak vir dieselfde geregte week in en week uit. Boonop moet mens deesdae produk-etikette lees soos ‘n speurder; wie weet wat hulle deesdae alles in verwerkte kosse sit?  As mens op ‘n begroting kook – veral vir ‘n groot gesin, is daar baie min grasie vir luukshede en duur produkte om uit te probeer, mens raak eerder kreatief.

Laat jou pasta droog in ‘n “pasta-nessie”. Foto deur Lea@ CutiePie

So het ek begin eksperimenteer met vars pasta, soos die Italianers dit maak (sonder ‘n pasta-maker masjien let wel).
Tot my verbasing was dit nie net maklik nie, maar ook spotgoedkoop, vullend en só heerlik, dat my gesin bokspring wanneer dit op die spyskaart is! Vars pasta is ook ‘n veelsydige dis wat as ‘n soet óf sout gereg bedien kan word.

Basiese Pasta Resep:

(Genoeg vir 6-8 mense)

Bestandele:

  • 6 x koppies Semolina óf Koekmeel (Jy kan volgraan meel gebruik vir volgraan-pasta!)
  • 5 x jumbo (xl)  Eiers
  • 1 x koppie (250ml)  Water
  • 1x 1/4 kwart teelepel (1ml) Sout

Metode (per hand):

  1. Plaas 5x koppies meel op ‘n skoon werk oppervlakte, en maak ‘n walletjie in die middel.
  2. Voeg die sout by.
  3.  Breek al die eiers in die middel en klits dit liggies met ‘n vurk.
  4. Werk dit deur met jou vingers. As die deeg te droog is, gooi ‘n klein bietjie water by.  Die deeg moet sag, tog ferm wees wanneer jy dit knie, jy moet dit kan vorm soos klei. Gooi nog meel op die oppervlakte om te voorkom dat dit vas plak. Knie goed deur tot dit ‘n ferm bal form.
  5. Plaas die deeg in kleefplastiek óf ‘n plastieksakkie in die yskas om te rus vir 2-4 ure. (Jy kan dit tot 3 dae in die yskas, en 2 weke in die vrieskas hou – ontdooi in die yskas oornag) 
  6. Nadat dit gerus het, haal dit uit en plaas terug op die oppervlak. Maak seker daar is geen harde stukkies meel oor op jou oppervlak nie. Strooi die oppervlak weer met meel en verdeel die bal in 4x kleiner dele deur met ‘n mes te sny. Afhangend van watter vorm jy hulle in wil sny, druk of rol kan jy nou jou eie vorms begin maak. Vir Tagliatelle (ribbon pasta):
  7. Rol elk van die dele weer in ‘n balletjie, en begin dit uitrol oor die oppervlakte met ‘n koekroller ( sowat 1-2 mm dik).
  8. Strooi meel oor die deeg en vou sagkens 2x maal in die helfde. Sny in dun repies.Trek die repies uitmekaar ,strooi met meel en versprei op ‘n oppervlakte of groot skinkbord om te droog terwyl jy besig is. Wanner jy klaar is met almal, neem klein hoeveelhede, en rol hol sagkens in klein “nessies”. Pak hulle dan uit op ‘n meel-bedekte oppervlak of skinkbord om te droog vir 30min-1h.
  9. Om vars pasta te kook, kook ‘n groot pot water. Voeg 2.5ml (1/2 teelepel) sout, en 2x eetlepels olie by. (Die water MOET kook, koue water sal jou pasta laat flop!)
  10.  Gooi die pasta ‘nessies’in die kokende pot en begin dadelik sagkens roer met ‘n sagte lepel/spaan. Die kooktyd van pasta sal afhang van die dikte. 1-2 minute is gewoonlik voldoende – maar jy kan toets en self besluit. Kook die pasta ál dente, pasta moet nie pap wees nie.
  11. Dreineer die water en eet onmiddelik saam met enige sous!

Metode (met pastamaker & voedselverwerker):

  1. Plaas 5x koppies meel, sout en al die eiers in die voedselverwerker. Pols vir 10 sekondes, of totdat die mengsel krummelrig voorkom.
  2. Verwyder die deeg en rol dit in ‘n ferm bal. Knie die deel vir ‘n minuut totdat dit elasties is. As die deeg te droog voel, gooi gerus ‘n teelepel op twee water by.
  3. Plaas die deeg in kleefplastiek óf ‘n plastieksakkie in die yskas om te rus vir 2-4 ure. (Jy kan dit tot 3 dae in die yskas, en 2 weke in die vrieskas hou – ontdooi in die yskas oornag) 
  4. Nadat dit gerus het, haal dit uit en plaas terug op die oppervlak. Maak seker daar is geen harde stukkies meel oor op jou oppervlak nie. Strooi die oppervlak weer met meel en verdeel die bal in 4x kleiner dele deur met ‘n mes te sny. Neem een deel, en plaas die res terug in hul plastiek sodat hul nie uitdroog nie.
  5. Druk die bal plat en voer die deeg deur die pasta-maker se wydste stelling. Soos die deeg uitkom, vou dit in derdes soos jy ‘n papier sou vou as jy dit in ‘n koevert wil sit. Voer dit deur die rollers soos jy stelselmatig die stelling verander om die pasta ál dunner te maak – totdat dit die regte dikte vir jou is. As die deeg plakkerig begin voel, strooi nog meel bo oor. As die stuk te groot raak om te hanteer kan jy dit kleiner sny.
  6. Sodra jy tevrede is, strooi dit die deeg ‘n laaste keer met meel. Jy kan nou jou sny-part aan jou masjien koppel.  Voer die vel pasta-deeg deur die snyer om die vorm te kry wat jy wil verlang. Laat droog die pasta vir 30min-1h deur hulle in ‘nessies’ op te rol en op ‘n meel-bedekte oppervlak te laat staan. Herhaal met die res van die deeg.
  7. Om vars pasta te kook, kook ‘n groot pot water. Voeg 2.5ml (1/2 teelepel) sout, en 2x eetlepels olie by. (Die water MOET kook, koue water sal jou pasta laat flop!)
  8.  Gooi die pasta ‘nessies’in die kokende pot en begin dadelik sagkens roer met ‘n sagte lepel/spaan. Die kooktyd van pasta sal afhang van die dikte. 1-2 minute is gewoonlik voldoende – maar jy kan toets en self besluit. Kook die pasta ál dente, pasta moet nie pap wees nie.
  9. Dreineer die water en eet onmiddelik saam met enige sous!

Jy kan vars pasta droog en stoor ook, of dit vries indien jy iets wil maak soos ravioli! ‘n Wonderlike, randrek ete vir ‘n groot gesin, en ‘n pret projek om te maak saam met klein kindertjies.! Jy kan eksperimenteer met vorms deur klein stukkie oor ‘n growwe oppervlak te trek of rol (bvb ‘n vurk).

Volg CutiePie vir meer resepte, en souse vir jou tuisgemaakte pasta!


 


Sommige van die artikels op die CutiePie webstuiste bevat skakels wat lei na geaffilieerde produkte en verskaffers wat ek graag onderskryf en ondersteun.

Teen geen ekstra koste vir u, verdien ek ‘n klein kommissie indien u enige produkte deur middel van hierdie skakels aankoop. CutiePie bedank u byvoorbaat vir u ondersteuning!

Translate »