Hoekom Meerjariges?

Ons ondersoek hierdie week meerjarige plante en die voordele daarvan om hulle aan te hou in jou tuin.

Kom ons begin deur gou vinnig te kyk na die lewensduur katagoriee van plante, daar is  3 katagoriee naamlik:

  • Jaarliks / Seisoenaal (Annual in Engels):  ‘n Seisoenale plant sal sy hele lewensiklus vanaf saai tot oestyd voltooi binne een groei seisoen. Daarna vrek die plant heeltemal, en moet saad weer geplant word die volgende seisoen. Sommige seisoenale plante/blomme sal vanself saad versprei en nuwe plante te voorskyn bring.

    Laventel is ‘n wonderlike voordelige meerjarige struik wat bestuiwers lok.
    Foto deur: Anastasia Shuraeva van Pexels

 

  • Tweejarig (Biennials in Engels): Hierdie plante het twee jaar nodig om hul lewens siklus te voltooi. Die eerste seisoen se groei lei tot jong, klein blare naby die grondoppervlak. Gedurende die tweede seisoen se verlenging van die stam, vind blom en saadvorming plaas. Hierna volg die dood van die hele plant.

 

  • Meerjarig (Perennial in Engels): Hierdie soort plante leef vir vele seisoene. Gewoonlik sal die boonste gedeelte van die plant (bo die grond) vrek oor die winter of koue maande. Sodra die lente weer aanbreek sal die ondergrondse wortel of knol weer begin groei. Baie meerjarige plante is immergroen en hou hul blare reg deur die jaar sonder om hulle af te gooi indie herfs.

Terwyl daar werklik vele redes is om meerjarige plante in jou tuin aan te hou, is een van die grootste redes dat dit die meer koste effektiewe (goedkoop) manier is om ‘n tuin te bou.

Ons kyk na 5 voordele van meerjarige plante:

Water besparing

Ongeag van die streek waar jy woon en die reenval in jou gebied, is dit altyd goeie praktyk om water te probeer bespaar soveel as moontlik. Inheemse plante (m.a.w plante wat natuurlik voorkom in daardie area of streek) kan gewoonlik heel goed op hul eie klaarkom sonder enige ekstra hulp van ons mense. Die wonderlike deel hiervan is dat jy slegs regtig ekstra water hoef te gee nadat jy dit geplant het en die wortels gevestig raak, daarna pas die plant homself aan tot die hoeveelheid water wat hy gaan kry in daardie opset.

Inheemse Bestuiwers

Granadilla is ‘n ywerige en eetbare meerjarige plant. Papaja, Koejawel en Sitrus vrugte is ook gewilde meerjariges.
Foto deur: Quang Nguyen Vinh van Pexels

Interessant om te weet dat inheemse plante in jou omgewing spesifiek saam werk met inheemse bestuiwers in jou area! Hulle is sowaar pasmaats en dis amper asof hulle spesifiek gemaak is vir mekaar. Inheemse bestuiwers weet byvoorbeeld instinktief  watter tyd van die dag  blom sekere plante. Hulle herken die groottes en vorms van die blomme, en  is selfs fisies toegerus met die regte “gereedskap” om die nektar te bekom. Om eksemplare te plant wat nie inheems is nie, kan beteken dat plaaslike bestuiwers nie die stuifmeel binne-in kan bykom nie, want

hul is nie ontwerp om dit te bereik nie. Daarenteen voorsien inheemse meerjarige plante ons inheemse bestuiwers gedurende die groeiseisoen van voedsel.

 

Koste Besparing

As jy meerjarige plante plant, oorleef hulle ( soms ondergronds) die winter seisoene wat beteken dat jy nie jaar na jaar geld hoef te bestee aan saad nie. Jou meerjariges sal orals weer begin opduik met wonderlike kleure en geure om jou tuin te betower. Meerjariges is aanvanklik duurder in die begin wanneer jy begin, maar werk oor die langtermyn goedkoper uit wanneer mens alles in ag neem. Indien jy eetbare meerjariges plant, gaan jy nog meer spaar!

Gratis kos en medisyne!

Met Permakultuur op die voorfront begin dit al meer n gier raak om meerjarige groente en veral kruie in jou tuin aan te hou. Plante soos Roosmaryn, Gemmer,  en Laventel is ‘n paar voorbeelde hiervan. In Permakultuur beginsels fokus ons nie alleenlik op die estetiese waardes van plante nie; m.a.w die mooi. Daardie era is verby. Ons benut eerder die voordele wat seker

e plante kan inhou! Alles vanaf gesondheidsvoordele van organiese voedsel produksie vir jou familie tot waterbesparing en bestuiwers.

Gratis Plante

Meerjariges versprei en vermenigvuldig vanself! Koop eenmaal en vermeerder hulle deur stiggies of bolle op te deel in kleiner stukkies. Versprei hulle dan verder in jou tuin of ruil uit

Gevestigde meerjarige tuine bied skuiling en ‘n natuurlike habitat vir inheemse insek en voël spesies. Foto deur: Daniel Frese van Pexels

onder jou tuinier-vriende. Daar sal beslis nes jy, natuur-lief mense wees wat ‘n passie het vir plante. Sluit aan by plant-uitruil groepe op sosiale media of vind uit of daar tuinbou klubs is in jou area waar jy sade of stegies kan uitruil.

Op daardie noot is dit ook geheel en al moontlik om n volledige tuin te bou totaal uit “geborgde” stegies of bolle uit geliefdes se tuine. Heeltemal gratis en verniet! Vra gerus ander tuiniers om ‘n paar van hul gunsteling groeiers met jou te deel. Oor die algemeen is trotse tuiniers en natuur-liefhebbers ywerig om die vreugde van tuinbou uit te deel!


 


Sommige van die artikels op die CutiePie webstuiste bevat skakels wat lei na geaffilieerde produkte en verskaffers wat ek graag onderskryf en ondersteun.

Teen geen ekstra koste vir u, verdien ek ‘n klein kommissie indien u enige produkte deur middel van hierdie skakels aankoop. CutiePie bedank u byvoorbaat vir u ondersteuning!

Translate »