Wat is Permakultuur?

As jy ‘n tuinboukundige is, behoort jy hierdie woord (of sy engelse uitspraak) al iewers tëegekom het…

maar wat presies is Permakultuur?

Bill Molisson, Die vader van Permakultuur.

Bill Mollison, ‘n Australiaanse navorser wat die term geskep het in 1978, het Permakultuur as volg beskryf (vertaal vanaf die oorspronklike engels):

” Die bewuste ontwerp en instandhouding van landbouproduktiewe stelsels met die diversiteit, stabiliteit en veerkragtigheid van natuurlike ekosisteme. Dit is die harmonieuse integrasie van die landskap met mense wat hul kos, energie, skuiling en ander materiële en nie-materiële behoeftes op ‘n volhoubare manier voorsien. ”

Sjoe, omtrent n mondvol…maar wat beteken dit in gewone Afrikaans?

In kort is Permakultuur ‘n holistiese, leef-in-harmonie-met-die-natuur manier om die landskap om ons te benader.  Ons begin onself beskou as déél van die ekosisteem, in plaas van ‘n verwyderde spesie wat meerwaardig is bô die ander.  Dit is ‘n sienswyse van volhoubaarheid, harmonie en respek vir alles wat lewe en hierdie planeet met ons deel. Sou mens hierdie sienwyse aanneem en ‘n liefde ontwikkel vir die natuur ; begin mens gou agterkom hoe die mensdom se wanbestuur van hierdie planeet al lank besig is om alles te vernietig. Ons het lyste en lyste van bedreigde spesies ;  ‘n astronomiese besoedling probleem ; droogte en erosie wat landskappe onleefbaar te maak, ons het water tekorte, voedsel tekore….die lys raak elke dag langer!

Dooie ekosisteme veroorsaak deur land, see en lugbesoedeling en wanbestuur. Photo: Nature.com

Is Permakultuur dan ‘n tuinboutegniek of ‘n spesiale benadering tot boerdery, soos biodinamika? Gaan dit oor volhoubare argitektuur, akwaponika, filosofie, tuinbou en ontwerp? Permakultuur is dit alles en nòg meer, daarom is dit so moeilik vir enigiemand om in woorde vas te vang wat dit presies als behels.

Permakultuur handel oor water en energie besparing. Dit soek maniere om sáám met die natuur te werk in plaas van teen dit. In tuin en bosbou na-aap ons die natuur en ontwerp ons ‘n ekosisteem vol diversiteit, omdat diversiteit oorvloed verseker.  Die tyd het lankal aangebreek vir die mensdom om ‘n in diepte kykie te gee na ons tradisionele metodes en tegnieke van tuinbou, bosbou en landbou. Is daar beter maniere? Kan ons droogtes voorkom, voedsel skaarstes teenstaan en die natuur herstel?

En indien wel, waarom doen ons dit nie?

Volg Cutiepie vir meer inligting omtrent Permakultuur praktyke en metodes in Afrikaans!


 


Sommige van die artikels op die CutiePie webstuiste bevat skakels wat lei na geaffilieerde produkte en verskaffers wat ek graag onderskryf en ondersteun.

Teen geen ekstra koste vir u, verdien ek ‘n klein kommissie indien u enige produkte deur middel van hierdie skakels aankoop. CutiePie bedank u byvoorbaat vir u ondersteuning!

Translate »